Monday 15 February 2010

Skuld en Produksie

Ek het onlangs gestry met 'n ou wie aangedring het dat geld 'n noodwendige tydswaarde moet hê. Die tydswaarde van geld het twee betekenisse, nl. dat R100 tien jaar gelede meer waarde gehad het as nou, weens inflasie - in die bedryf gebruik mens 'n syfer wat as die MARR (Minimum Acceptable Rate of Return) bekend staan, bo inflasie, vir sulke berekeninge, om te besluit of 'n projek die moeite werd is, en dit (MARR) is as sulks 'n aanduider van die tydswinsgewendheid van 'n projek; verder kan die tydswaarde van geld ook verwys na 'n behoefte tot 'n groter som geld, om 'n groot aankope te maak, wat dan tot 'n toekomstige verlies lei, b.v. huislenings; daai ou het die tweede bedoeling in gedagte gehad. Vir my het dit geblyk dit dat winsjag (wat ons lei tot die tydswaarde van geld) sou lei tot inflasie; ek het toe 'n model probeer opstel, en van daardie oefening het ek tot die volgende gevolgtrekkings en gedagteseksperimente gekom.

Beskou 'n ekonomie waar daar net een produsent is (die enigste werkgewer), wat items skep wat hul markwaarde permanent behou, d.w.s. die items kan enige tyd herverkoop word vir dieselfde prys as 'n nuwe item. Die produsent skep M items, waarvan N suksesvol verkoop word, teen 'n gemiddelde prys van P per item. Sy onkoste vir materiale, lone, ens. is C. Dus is sy wins PxN-C en sy winsgewendheid is RR=(PxN-C)/C. Waar kom hierdie wins vandaan? Moontlikhede sluit in sy werkers se fondse, die regering (geld skep) en 'n lening aan sy werkers (moontlik d.m.v. 'n bank) - om winsgewend te wees moet hy meer in kry as wat hy uitbetaal - op die ou end kan dele van die betaling uit die materiaal onkostes kom, maar 'n deel van die wins moet elders vandaan kom. [Korreksie (17 Februarie 2010): Hierdie situasie is deflasionêr - die geld bly dieselfde, maar die aantal items verteenwoordig verhoog. Om my punt deur te bring, laat die items gesteel/vernietig word - maar dan gaan ons eenvoudig 'n paar stappe vorentoe - die omgewing word eintlik in hierdie voorbeeld vernietig, so in 'n mate is dit nie eintlik deflasionêr nie.]

Sodra hy genoeg eenhede verkoop het dat die werkers se fondse opgebruik is, moet hy 'n verlies ly, inflasie ly of 'n lening aan sy werkers maak, wat die geld-skep tot later los, nog voor hulle 'n netto rente betaal het. Deur later te werk sonder om te koop, los die werkers nie die probleem van geld verspreiding op nie, want in daardie geval is die bedryf nie meer winsgewend nie (benewens die tekort aan kopers), en kan dus nie voort hou nie. Hierdie inflasie is dan weens die verspreiding van geld.

Die situasie verander nie veel met ekstra produsente en werkers/kopers nie: Al wat verander is dat 'n ander produsent nou sy produksie kan koop. Wat van belang is is die netto oordrag tussen produsente en werkers. Kom ons verdeel die ekonomie in drie: Produsente wie winsgewend is, produsente wie nie winsgewend is nie, en werkers. Nie-winsgewende produsente dra netto geld oor aan winsgewende produsente en werkers. Hul effek is moontlik inflasionêr of deflasionêr, afhangend van hoeveel hulle met hul geld produseer voor hul bankrot speel, maar as die ekonomie in die netto winsgewend is, het ons dieselfde probleem as voorheen - werkers moet hul fondse gebruik om goed te koop, of moet elders die geld kry. Slawerny in 'n gegewe produksie sektor los nie die probleem op nie: Geld sal soveel te meer geskep moet word om die slawe se produkte te koop, andersins sal die winste op 'n ander manier herversprei moet word, voor daar nie meer 'n mark is nie.

Kom ons verander die produksie na verbruikersgoedere: Nou vernietig ons die markwaarde van 'n item soos ons dit koop (o.m. deur dit te eet of andersins te verbruik, b.v. deur die pakket oop te maak). Deur te koop en te verbruik veroorsaak ons 'n neiging tot inflasie (die bestaande geld kan nie meer daardie goedere eis nie), en deur dan te produseer veroorsaak ons 'n neiging tot deflasie (ons skep goedere wat die bestaande geld kan eis). Laat die produksie en verbruik teen dieselfde tempo plaasvind (d.w.s. 'n stasionêre ekonomie), dan sit ons met dieselfde probleem - 'n akkumulasie van wins, wat iewers vandaan moet kom. (Indien die produsent gedurig sy winste herbelê, kan inflasie verhoed word, anders moet daar óf inflasie óf 'n verlies aan algemene winsgewendheid wees - skuld/lenings maak stel net die saak uit tot die eerste rente betaling.)

Beskou nou verder die geval waar 'n ekonomie konsekwent groei, met 'n mate van besparing, en gevolglik 'n inflasie-neiging het. 'n Besparing in die produksie proses word gemaak: Die produsent het nou 'n keuse hoeveel van die produksie-besparing hy aan die mark wil oordra: Spaar hy die volledige wins, is daar 'n noodwendige verdere inflasie, en belê hy dit, is daar moontlik inflasie in een sektor, en deflasie in 'n ander (soos geld tussen sektore oorgedra word), maar sonder die bogenoemde geld-verwante netto inflasie. In die praktyk sal die geld in bankrekeninge gaan, om hierdie akkumulasie te verhoed, en dan word die geld uitgeleen (met geldskep weens 'fractional reserve lending'). Nou word die skuld probleem ten beste aanhoudend - die heruitdeling van geld vind deur skuld plaas, wat dan tot verdere rente betalings lei - die bank is nie in die eerste plek 'n verbruiker nie. Onbetaalbare skulde lei dan tot bankrotskappe, wat die probleem in 'n mate verlig.

Buiten die bykomende skuld van akkumulasie, is daar ook 'n probleem dat die ekstra rentebetalings weens die bykomende skuld die aanvraag in die werkerbedienende markte sal inkort, of tot inflasie sal lei namate die werkers hoër lone eis.

Dus kan skuld en produksie nie geskei word nie.

No comments:

Post a Comment